As die land se toerismesektor boonop met dubbelsyfers kan groei, sal dit nog sowat 0,6% by ekonomiese groei voeg, het die minister die afgelope week op ‘n byeenkoms met sakelui en verteenwoordigers van verskeie ambassades in Johannesburg gesê.
Volgens hom wys dit hoe noodsaaklik ‘n doeltreffende departement van binnelandse sake is vir sterk ekonomiese groei en werkskepping.
Schreiber het gesê hy was bemoedig toe hy die afgelope Donderdagoggend in Pretoria sowat 60 werkers besoek het wat voltyds werk om die visumagterstand uit te wis. Met dié samewerkingsprojek tussen die departement en private sektor, glo hy die agterstand sal teen Kersfees uitgewis wees.
Danksy die span se werk reik die departement nou sowat 15 000 visums per maand uit. Dit kom neer op meer as 700 per dag, terwyl die agterstand met visums tot onlangs nog teen 150 per dag gegroei het.
Die span het vir Schreiber berekeninge gewys oor die uitsette (getal visumuitreikings) teenoor die belegging in die projek, waaronder salarisse vir die werkers. Dit kos sowat R96 per verwerkte aansoek.
“Dit beteken die Koeberg-ingenieurs wat die veiligheid moes verseker van Afrika se enigste kernkragaanleg vir die volgende 20 jaar, kos net R96 per persoon om hulle hier te kry. Dit is nou ’n lonende belegging. Dink aan die ekonomiese waarde daarvan.”
Volgens Schreiber is die visumagterstand in ‘n groot mate weens ‘n gefragmenteerde stelsel en dit was moeilik om die probleem te kwantifiseer.
“Die departement het grootliks ‘n probleem met sy verwerkingsstelsels. Ons wil die departement transformeer in ‘n omgewing wat eerstens digitaal funksioneer en waar outomatisering ‘n belangrike rol speel.”
Hy het gesê as die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) die laaste paar jaar suksesvol van ‘n stelsel met ‘n papier-grondslag na ‘n voorste digitale en geoutomatiseerde stelsel kon beweeg, kan die departement van binnelandse sake dit ook doen.
Marisa Jacobs, besturende direkteur van Xpatweb en ‘n verteenwoordiger in Busa en Nedlac, het tydens ‘n paneelbespreking met die minister gesê die sakesektor sien baie positiewe verandering, maar is besorg oor te veel visumaansoeke wat afgekeur word.
Wanneer groot maatskappye teen dié besluite appelleer, is hulle in feitlik alle gevalle suksesvol, wat wys die aanvanklike besluit om ‘n aansoek af te keur was foutief.
Volgens Jacobs is daar ook verskillende standaarde en vereistes by verskillende Suid-Afrikaanse sendings in die buiteland waar aansoeke ingedien word.
Dis verwarrend en maak dinge moeilik vir maatskappye wat meestal so vinnig moontlik buitelanders met die nodige vaardighede by hul Suid-Afrikaanse bedrywighede wil laat inval.
Schreiber het in antwoord hierop gesê outomatisering kan baie help met die gehalte van besluite as ‘n rekenaar ‘n aansoek afkeur op grond van gebrekkige of verkeerde inligting.
Volgens die minister kan eenvormige vorms by die verskillende Suid-Afrikaanse sendings in die buiteland sake vir almal vergemaklik.
Schreiber het gesê as die projek om die visumagterstand uit te wis, suksesvol is, sal die departement lesse daaruit gebruik om ander probleemgebiede te takel en só ‘n algehele verbetering in die departement se doeltreffendheid teweeg te bring.
“Hy wil nie die departement en sy amptenare sien as ’n groep brandbestryders wat van die een brand na ’n ander steier nie.